Roberts | Is dit jý? | E-Book | www2.sack.de
E-Book

E-Book, Afrikaans, 256 Seiten

Roberts Is dit jý?

Avonture voor en agter die skerms
1. Auflage 2024
ISBN: 978-1-77619-357-8
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark

Avonture voor en agter die skerms

E-Book, Afrikaans, 256 Seiten

ISBN: 978-1-77619-357-8
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark



As 'n jong seun wat kaalvoet en vry grootgeword het op sy ouers se sitrusplaas in die Oos-Kaap, sou Ian Roberts nooit kon dink dat hy eendag 'n ikoon van die silwerskerm sou word nie. Vandag nog herken mense hom as die taai Bittereinder Sloet Steenkamp van Arende of as Boet van die gewilde Castrol-advertensies. Ian se loopbaan strek van Langstraat in Kaapstad tot Los Angeles en van Shakespeare-produksies in die teater tot die Oscar-wenner Tsotsi. In sy outobiografie verklap hierdie briljante storieverteller met 'n stoute sin vir humour meer oor wat alles agter die skerms op televisie- en rolprentstelle gebeur. Hy beskryf ook die hoogbloei van Afrikaanse televisie- en rolprentvervaardiging toe hy saam met legendariese regisseurs soos Manie van Rensburg en Dirk de Villiers gewerk het. Sy lewensverhaal is 'n meesterklas in die kuns van toneelspel. So outentiek, vreesloos en onkonvensioneel soos wat talle van sy karakters was, só is Ian ook in die regte lewe. Hy trap sy eie paadjie en was nog nooit 'n tropbok nie. Hy deel sy lewensverhaal met soveel humor, patos en insig dat dit nie anders kan as om die leser te ontroer nie.

IAN ROBERTS is 'n bekroonde akteur, toneelskrywer en musikant. Hy het in die 1980's groot bekendheid verwerf vir sy rolle in gewilde televisiereekse soos Verspeelde Lente, Arende en Inkom' Edla Yodwa, waarin Ian, wat ook Xhosa magtig is, teenoor Henry Cele gespeel het. Benewens sy rol in die Oscar-wenner Tsotsi, het hy ook rolle vertolk in talle internasionale rolprente wat in Suid-Afrika vervaardig is. Sy optrede as Boet in die gewilde Castrol-advertensieveldtog het van hom 'n huishoudelike naam gemaak. Hy is ook die sanger van die rockgroep Die Radio Kalahari Orkes.
Roberts Is dit jý? jetzt bestellen!

Autoren/Hrsg.


Weitere Infos & Material


1


Die Jagter-Versamelaars

DAAR WAS TALLE VREESAANJAENDE DINGE op die drumpel van ons huis by Baddaford Citrus Estates aan die voetheuwels van die Katberg tydens my grootwordjare. Sommige kinders moet veel erger dinge verduur, soos oorlog en die skrikwekkende geweld wat daarmee saamgaan. As ’n boer se seun het ek my bevind in ’n wêreld van lemoenboorde en leivore, wat veronderstel was om idillies te wees.

Maar selfs as ’n jong kind het ek geweet dat die skimme van geweld om ons sweef. Ek kon hulle nie sien nie, maar ek het hulle aangevoel. In 1879, slegs 80 jaar voor my geboorte, het die Oos-Kaapse grensoorloë tot ’n einde gekom en die Keirivier is as die grens vasgestel. Ek sou mettertyd uitvind dat Xhosa-veeboerkrygers, Britse setlaars en die Boere destyds hewig baklei het oor die stuk grond wat vandag Baddaford Citrus Estates genoem word en tog so vreedsaam kan lyk met al sy lemoenboorde wat my oupagrootjie in die vroeë 1900’s aangeplant het.

As kind het niemand my van dié konflikte vertel nie. Carl Jung, die Switserse psigiater en psigo-analis, het klaarblyklik vertel dat hy bloed in die lug kon ruik wanneer hy op die lughawe van ’n sekere land aankom – wat hom sy besoek sou laat kanselleer en laat terugvlieg het Switserland toe. Dit was asof dieselfde reuk in die Oos-Kaapse lug rondom my gehang het.

Een aand, toe ek omtrent vier jaar oud was, word ek donkernag wakker van ’n woeste gehamer aan ons kombuisdeur. Toe my pa, Llewellyn, oopmaak, sien hy ’n Xhosa-vrou daar staan. Haar man, rasend dronk, het haar met ’n mes aangerand. Terwyl my pa met haar op die grondpad hospitaal toe jaag, agt kilometer ver na Fort Beaufort, moes my ma die arme vrou se ingewande in haar buikholte terugdruk. Gelukkig het die vrou volkome herstel.

Hare gekam en netjies aangetrek vir ’n formele foto.

Ek onthou ook een Saterdagmiddag toe ek ’n bakleiery dopgehou het tussen ’n bruin man wat ons Lawiesh genoem het (sy naam was eintlik Louis) en ’n Xhosa-man genaamd Mzwandile. Dit was by die plaaswerkers se hutte. Lawiesh het ’n mes gehad en Mzwandile ’n kierie (isigweba in Xhosa). Almal het baie gedrink en hulle was bloeddorstig en lus vir geweld. Die vroue het gegil en gehuil terwyl rukwinde van ’n broeiende donderstorm die bosse woes rondpluk en stofwolke opjaag. Dit het alles bygedra tot wat vir my gelyk het na dolle waansin. Gelukkig vir my onskuldige kinderoë is Lawiesh deur sulke mokerhoue getref dat hy op die grond inmekaargesak het voordat hy ’n steekslag kon inkry en bloed gevloei het. So het die geveg geëindig. Tog was ek verlam deur dié vertoning van geweld. As ek die keuse gehad het, sou ek daar en dan graag soos Jung die plek vir goed verlaat het.

My ouers, Llewellyn en Lynn, buite die kerk by St Andrew’s College op hul troudag.

In die 1830’s het my oorgrootjie, Daniel Roberts, die vermetelheid en vertroue gehad om ooswaarts te trek uit die Albanie-distrik waar die meeste 1820-setlaars hulle gevestig het, hoofsaaklik as boere. Hy het ’n winkel naby die Peddierivier oopgemaak en was ook ’n lekeprediker vir die Wesleyaanse Kerk in die Grahamstad-distrik. Dit was in dié hoedanigheid wat Daniel betrokke was daarby om te reël, en te betaal, dat die Xhosa-hoof Ngqika se seun per skip na Skotland reis om daar ’n kosskool by te woon.

In 1837 het die Xhosas in opstand gekom en die Kaapkolonie uit die ooste binnegeval. (Ek dink die owerhede in Engeland moes eerliker met die 1820-setlaars gewees het: hulle is na ’n vreemde, gevaarlike land gestuur om inderwaarheid as ’n buffer te dien tussen die Xhosas en die Kaapkolonie.) Vroeg een oggend word my oorgrootjie se huis omring deur ’n horde jong krygers. Terwyl sy winkel geplunder en afgebrand word, beveel hulle hom om sy vrou en kinders weg te stuur. Anders as die Zoeloes onder Dingaan het die Xhosas nooit setlaars se vroue en kinders doodgemaak nie. Dieselfde kan nie gesê word van Mzilikazi se impi’s nie, wat tydens hul vlugtog uit Zoeloeland almal aan die oostelike voetheuwels van die Drakensberg uitgewis het.

(Onlangs bel ’n joernalis my: “Meneer Roberts, as ’n akteur wat in ’n Engelse gesin grootgeword het, hoe voel jy daaroor dat jy in soveel TV-reekse in die taal van die onderdrukker gespeel het?”

“Maar ek het in net twee TV-reekse Zoeloe gepraat,” antwoord ek.

Daar volg ’n stilte.

“Wat bedoel jy? Ek praat van Afrikaans.”

“Ja, natuurlik. Ek weet. Maar Afrikaans is nie die enigste taal van onderdrukking nie. Zoeloe is ook.”)

Maar die Xhosas was nie so nie. Met Daniel se jong vrou en kinders weggestuur na veiligheid, sê die krygers vir hom hulle gaan hom doodmaak en sy huis afbrand.

“Wie het beveel dat ek doodgemaak moet word?” vra Daniel uit pure desperaatheid.

Dit blyk toe ’n verwarrende vraag te wees; niemand is seker nie. Die plunderende bende is nie deur ’n koning gestuur nie – hulle was op hul eie vergeldingsending teen die setlaars.

“Wie is julle koning?” vra Daniel.

Hulle antwoord dat sy naam Ngqika is.

“Dan moet julle eers Nkosi Ngqika vra of Daniel Roberts doodgemaak moet word.”

Ngqika was nie ver daarvandaan nie, en so word ’n boodskapper gestuur. Maar die jong krygers raak ongeduldig terwyl hulle op sy terugkoms wag. Hulle begin Daniel se vel met hul assegaaipunte prik. “Wanneer die boodskapper terugkom en vertel die nkosi het gesê dat ons jou kan doodmaak, gaan ek my lem hiér in jou bleekwit vel steek,” het een van hulle gedreig.

Ná ’n ruk loop strepe bloed teen sy lyf af. Die boodskapper kom teruggehardloop en skree: “Yekani! Inkosi ithethile umthetho wayo!” (Die koning het gepraat!)

Ngqika se antwoord was dat as daar ’n vinger op Daniel Roberts gelê word, hy al die krygers sal laat doodmaak.

My inskrywing vir die jaarlike kunskompetisie by St Andrew’s Preparatory School.

So word Daniel toegelaat om terug te gaan na die skadu van sy huis, terwyl van die krygers probeer om die brand te blus wat in sy winkel woed. Die volle waarheid is dat die leier van die opstand die koning se seun was – dieselfde een wat Daniel Roberts vroeër gehelp het om in Skotland te gaan studeer! Desondanks het hy oorlogsugtig teruggekeer.

As kinders is hierdie voorval aan ons voorgehou om te wys hoe onseker die oorlewingskanse vir die Roberts-clan destyds was. ’n Paar jaar gelede, tydens ’n besoek aan die Albanie Museum in Grahamstad (deesdae Makhanda), het ek met die hulp van die bibliotekaris ’n artikel in die Grahamstown Journal van 1837 opgespoor wat bevestig dat die storie wat my ouers my vertel het, waar en korrek is.

Ná die voorval het Daniel besluit om die grensgebied te verlaat en weswaarts te trek. Hy het betrokke geraak by die Wesleyaanse Kerk se boerdery-projek naby die nedersetting Salem. Sukkelende swart mense is daar ’n plek gegee om te vestig en te boer op grond wat deur die Wesleyane gekoop is, en dit is daar dat Daniel ’n kerk gebou het wat vandag nog staan.

Ek was gelukkig dat die Roberts-familie die geweld van die grensoorloë oorleef het. Die lewe was effens makliker vir my grootjie, Llewellyn John Roberts, wat ’n uitvinder-boer was. Hy was die eerste een wat ’n hek kon maak deur staalpype te buig sonder om dit te verswak of te vervorm. Nadat hy dié tegniek gepatenteer het, het hy ’n tyd lank goed verdien met sy hekmakery, wat hy uit ’n fabriek naby ’n spoorweghalte met die naam Kroomie tussen Fort Beaufort en Adelaide bedryf het.

In 1903 het hy die plaas gekoop en besluit om ’n huis te bou wat hy self ontwerp het – op die plek waar die blou granietrotse ophou rol het nadat hy ’n krans hoog teen die berg met dinamiet uitmekaargeskiet het. Britse klipmesselaars wat deur die Kaapse regering gekontrakteer is om ’n brug oor die Katrivier by Fort Beaufort te bou (wat talle bruisende vloede weerstaan het) het die rotse in boublokke opgekap.

Llewellyn se huis het voorsiening gemaak vir die steil helling en uit drie verdiepings sonder gange bestaan. Al die leefareas het van ’n sentrale vertrek – “The Court” – uitgewaaier (dit staan steeds vandag so bekend). Dié binnehof is geskep deur die middel van die sinkdak te lig, met twee rye vensters om sonlig in te laat. Llewellyn het ’n deftige trap gebou met ’n geboë houtbalustrade wat vanaf die boonste verdieping na die binnehof lei. Die kamermure is met uitsonderlike houtpanele bedek.

Ongelukkig het die huis in die 1930’s afgebrand en die twee jong mans wat daar gebly het, kon slegs twee goed red: ’n manjifieke Steinway-kleinvleuelklavier en ’n driekwartgrootte biljarttafel. Die brand het ontstaan toe die tuinier ’n brandende paraffienlamp in die kelder gelos het. Maar die blou granietmure het grimmig dog trots bly staan toe die rook wegtrek. Die huis is herbou – minder deftig afgewerk as voorheen – maar steeds indrukwekkend. Ons het dit “The Big House” genoem en dít is waar ek grootgeword het.

My grootjie Llewellyn het jonk gesterf – op 54 – weens brandwonde wat hy tydens ’n fratsongeluk opgedoen het toe hy ’n pomp naby Douglas, ’n afgeleë dorp langs die Vaalrivier, moes installeer. Dié pomp, ’n Engelse ontwerp deur HA Humphrey, moes in ’n put geplaas word wat tot onder die rivier se watervlak gegrawe is. Die water in die vertikale pyp, wat as silinder dien, is as suier gebruik om die mengsel van petrol en lug saam te pers. Dit is dan met ’n...



Ihre Fragen, Wünsche oder Anmerkungen
Vorname*
Nachname*
Ihre E-Mail-Adresse*
Kundennr.
Ihre Nachricht*
Lediglich mit * gekennzeichnete Felder sind Pflichtfelder.
Wenn Sie die im Kontaktformular eingegebenen Daten durch Klick auf den nachfolgenden Button übersenden, erklären Sie sich damit einverstanden, dass wir Ihr Angaben für die Beantwortung Ihrer Anfrage verwenden. Selbstverständlich werden Ihre Daten vertraulich behandelt und nicht an Dritte weitergegeben. Sie können der Verwendung Ihrer Daten jederzeit widersprechen. Das Datenhandling bei Sack Fachmedien erklären wir Ihnen in unserer Datenschutzerklärung.