Joubert | Wie Gaan in 2019 Regeer? | E-Book | sack.de
E-Book

E-Book, Afrikaans, 280 Seiten

Joubert Wie Gaan in 2019 Regeer?


1. Auflage 2018
ISBN: 978-1-86842-909-7
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark

E-Book, Afrikaans, 280 Seiten

ISBN: 978-1-86842-909-7
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark



In die plaaslike verkiesing van 2016 is die ANC bloedneus geslaan toe hy drie metrorade aan die opposisie moes afstaan. Gaan die verdeelde regerende party onder Cyril Ramaphosa kan verenig en in 2019 'n meerderheid by die stembus behaal? Of gaan die DA en die EFF hul groot ideologiese verskille kan oorkom om die ANC uit die kussings te lig? Sedert Jacob Zuma as president bedank het, het Suid-Afrika se politieke landskap dramaties verander. Die gesoute politieke joernalis Jan-Jan Joubert kyk na alle moontlike scenario's en neem die leser agter die skerms na waar die geheime politieke smouswerk plaasvind. Hy oorweeg al die beskikbare opsies vir politieke partye in die aanloop tot die volgende verkiesing. Sal die ANC 'n koalisie vorm om in beheer te bly? En wat is die kans dat dié party na die EFF sal draai om meer steun te werf? Een ding is seker - ooreenkomste sal aangegaan word. Die uitslae van plaaslike en tusenverkiesings wys vir Joubert dat die volgende verkiesing die eerste in 25 jaar kan wees waarin geen party 'n volstrekte meerderheid behaal nie. In eksklusiewe onderhoude deel politieke leiers ook hul standpunte oor die belangrikste kwessies wat burgers en partye verdeel - of dalk kan verenig.

JAN-JAN JOUBERT doen al sedert 2001verslag uit die parlement. Hy was vantevore politieke redakteur van Die Burger, Beeld en Rapport en ook adjunk-redakteur: politiek, parlementêre sake en meningstukke vir die Sunday Times. Joubert is 'n gereelde gas op radio- en televisieprogramme soos Kommentaar, asook Monitor en Spektrum, op rsg, en op kykNET se Verslag in gesprek met Waldimar Pelser. Hy gee ook gereeld klas in politieke joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en ander instellings.

Joubert Wie Gaan in 2019 Regeer? jetzt bestellen!

Autoren/Hrsg.


Weitere Infos & Material


VOORAF
Vooraf Politieke joernalistiek is terselfdertyd een van die lekkerste én slegste beroepe. Dit stel jou bloot aan die beste en die slegste in mense wanneer hulle hul soetste sukses en bitterste mislukkings smaak. As jy antwoord op sy roepstem, bied politieke joernalistiek ’n wonderlike maar gevaarlike geleentheid om die mensdom in al sy feilbaarheid te beleef. Dit gee jou ook die kans om, in die woorde van Philip Graham, eertydse hoofbestuurder van die Washington Post, aan “a first rough draft of history” te help skryf. Ek is sedert 2001 ’n politieke joernalis. Ek is eenvoudig versot op my werk, omdat dit my in staat stel om eerstehands te beleef hoe die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak word en ek dit kan beskryf soos dit van hierdie oomblik af gebeur het. Sommige sleuteloomblikke op my beroepspad was die skeuring in die Demokratiese Alliansie (DA) in 2001 toe die Nuwe Nasionale Party weggebreek en daarmee die opposisieprojek tien jaar teruggesit het, en die gevolglike eerlose sterfte van die eens magtige Nasionale Party. Dan was daar die stryd wat tussen 2002 en 2008 tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma ontvou het en die hoopvolheid van die Motlanthe-era. Die opkoms en val van die Zuma-presidensie is gekenmerk deur die tragedie van staatskaping, maar ook deur gewone mense se inspirerende pogings om terug te veg. Sedert Desember 2017 was daar die opwinding van die Ramaphosa-era en tussendeur vele verkiesings, parlementsdebatte en ander politieke gebeure. Na my mening is die groot verskil tussen die politieke joernalistiek en ander vorme van joernalistiek dat politieke joernalistiek ’n aaneenlopende, inmekaargevlegte verhaal eerder as ’n reeks losstaande gebeure is. ’n Misdaadverslaggewer sal byvoorbeeld vandag oor ’n spesifieke misdaad berig en môre oor ’n gans ander, onverwante misdaad. Maar in die politieke joernalistiek is byna alles waaroor jy skryf, verwant aan of die gevolg van ander politieke gebeure, terwyl dit ook oor doodgewone menslikheid gaan wat op so baie maniere beslag kry. Baie van die dinge waaroor ’n politieke joernalis verslag doen, volg op of is verwant aan ander gebeure en hang af van die (dikwels wisselende) verhoudings tussen mense. In ’n groot mate bou alles in die politiek op alles wat voorafgegaan het en alles het die potensiaal om toekomstige gebeure te beïnvloed. ’n Goeie politieke verslaggewer moet dus in staat wees om verbande te trek en die samehang tussen menseverhoudinge, magspel en beleidsonderstrominge te verstaan en te beskryf – daardie dinge wat nie noodwendig op die oppervlak waarneembaar is nie en wat politici ongesê laat. My beroep het my ook die voorreg gebied om onderhoude met van die grootste en mees besondere Suid-Afrikaners te voer – mense soos die Nobelpryswenners aartsbiskop Desmond Tutu en oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk. Ander bewonderenswaardige Suid-Afrikaners met wie ek te doen gekry het, sluit in die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, die politikus wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert, die swemmer Ryk Neethling, die Stellenbosse rektor wyle prof. Russel Botman, die onderwyskenner prof. Jonathan Jansen, die akademikus en denker wyle prof. Jakes Gerwel en die sakeman en patriot mnr. Johann Rupert. Soos enigeen sal weet wat die land liefhet en belangstel in haar verlede, hede en toekoms, is die Suid-Afrikaanse politiek soos ’n morsige kontaksport waarin hoop en wanhoop mekaar dikwels vinnig afwissel. Om daaroor te berig, is soos om in die voorste ry by ’n boksgeveg te sit. Jy sien al die aksie van naby, maar dit beteken ook dat die sweet – en soms selfs die bloed – van die vegters op jou beland, ongeag hoe hard jy probeer om op ’n veilige afstand te bly. As dit ’n politieke geveg is, sal die bokser wat teen die toue is dikwels boonop uit die kryt klim en jou ’n opstopper kom gee, al is dit teen die reëls. Die politieke joernalistiek het my dus ook al blootgestel aan die kleinlikheid, bitsigheid en sinlose wraaksugtigheid van sekere mense vir wie baie Suid-Afrikaners hoë agting het. Ek sal geen name noem nie, want ek het lankal besluit om nie self te doen wat ek in ander mense onaanvaarbaar vind nie. ’n Ander metafoor vir die dilemma van die politieke joernalis is dat jy naby genoeg aan die politieke son moet vlieg om die meeste lig moontlik op die onderwerp te kry, maar nie so naby dat jy self brand nie. As jy dié balans kan handhaaf, is die politieke joernalistiek ’n uitdagende en intellektueel lonende beroep. In hierdie boek neem ek die leser agter die skerms waar die belangrike besluite geneem word, oordele gevel en ooreenkomste aangegaan word wat vir ons almal wesenlike gevolge inhou. Ek het probeer om reg te laat geskied aan die vreugde wat my werk my verskaf en die hoop waarmee dit my vir die toekoms van ons geliefde land vervul. Deurgaans respekteer ek die nodige vertroulikheid en beskerm my bronne. En, soos altyd, aanvaar ek verantwoordelikheid vir die akkuraatheid van my feite en die geldigheid van my interpretasies. Wanneer ’n mens meer as net middelmatige politieke joernalistiek probeer bedryf, is dit noodsaaklik om baie na te vors, op te lees, na te dink, op te weeg, vertroue te bou … maar nooit te vergeet om dit ook te geniet nie. Hoewel die naleeswerk soms vervelig kan raak, is dit noodsaaklik dat jou kennis oor ’n onderwerp vergelykbaar of verkieslik beter is as dié van die politici met wie jy te doen het. Jy moet navorsing doen om die inhoud en veral die betekenis en impak van wetgewing, regulasies en partypolitieke dokumente onder die knie te kry. Op dié manier bekom ’n mens die noodsaaklike basiese kennis wat voorkom dat jy maklik mislei word; dit dien as’t ware as ’n hawemuur. Wanneer jy verby dié hawemuur beweeg, bevind jy jou op die groot en opwindende – maar gevaarlike en bedrieglike – oopsee van ware, taai politieke verslaggewing. Dis hier waar jy die spesie “politikus” raakloop. Verreweg die meeste Suid-Afrikaanse politici is puik mense wat poog om die kiesers te dien en hard werk in ’n beroep waaroor landsburgers graag ’n oorhaastig negatiewe oordeel uitspreek. Talle politici het my oor die jare goed behandel, lekker gespreksgenote geword en heerlik met my gestry. ’n Paar het selfs gewaardeerde vriende geword. Politici is per slot van rekening ook maar net mense, al vergeet sommige van hul ywerigste kritici dit graag! Wanneer ek oor die joernalistiek klasgee, vertel ek die universiteitstudente altyd ook dié storie: Daar was ’n ou dame wat buite ’n dorp gewoon het en baie eensaam was. Elke dag het sy dorp toe gestap om kruideniersware te koop. Eendag, op pad terug, stap sy verby ’n slang. Die slang het maar oes gelyk; hy was trouens op sterwe na dood. Die ou dame het die slang opgetel, huis toe gevat en versorg tot hy gesond was. Hulle het gaandeweg selfs vriende geword en die ou dame was nie meer eensaam nie. Toe, op ’n dag, pik die slang haar. In haar sterwensoomblikke roep die ou dame uit: “Ek het na jou omgesien, jou gevoer en jou lewe gered. Ek dog ons is vriende. Waarom het jy my gepik?” Die slang antwoord: “Omdat ek ’n slang is.” Daar is soveel waarheid in dié verhaal. Sommige politici is slange en hulle is giftig. Diesulkes moet ’n mens maar op ’n afstand probeer hou en so ordentlik moontlik teenoor hulle optree, al is dit ook hoe moeilik. As jy iets skryf wat hulle of hul party nie aanstaan nie, kan jy selfs hulle teiken word as hulle glo dat jy bymotiewe het of ’n vendetta teen hulle voer. As ’n politieke joernalis moet jy dus altyd jou motiewe en optrede krities ondersoek om te verseker dat jy so gebalanseerd en objektief as moontlik verslag doen. Tog moet jy weet sulke aanvalle gaan van tyd tot tyd op jou geloods word ongeag die feite en balans in jou verslaggewing; dis gewoon deel van die werk. Die politieke joernalistiek is nie ’n gewildheidskompetisie nie. Dit maak jou sommer baie gou taai. In al die jare dat ek oor die politiek verslag doen, het ek nog net drie werklik gemene politici ontmoet wat my loopbaan wou verongeluk. So iets is uiteraard uiters onaangenaam, maar ’n mens moet dit maar hanteer. Dit help as jou koerant jou in sulke moeilike omstandighede ondersteun – wat nie altyd ’n gegewe is nie. Goeie diskresie is natuurlik noodsaaklik. Terselfdertyd moet jy minstens met sommige politici ’n vertrouensverhouding opbou as jy die nodige inligting en insig wil bekom. En vertroue is mos ’n anderste ding; dit moet wederkerig wees. ’n Professionele verhouding met ’n politikus kom neer op gee en neem. Dit stel jou bloot en kan gevaarlik wees, maar dis noodsaaklik. Die verhouding kan nie net ’n transaksie wees nie. Die joernalis moet op die politikus kan vertrou om korrekte inligting en ’n eerlike interpretasie te verskaf; die politikus moet die joernalis kan vertrou om feitelik akkuraat en gebalanseerd verslag te lewer. Nogtans is dit soos om in aandele te belê: Selfs as jy ’n ingeligte en versigtige belegging maak, is die dividend onvoorspelbaar. Soms laat jou oordeel jou in die steek en pluk jy die wrange vrugte, maar dikwels is die riskante wedersydse besluit om mekaar te vertrou absoluut die moeite werd. Vir my bly die politieke joernalistiek ’n intellektuele uitdaging wat elke dag die moeite werd is om aan te pak. Dit bly ’n voorreg om die politieke reis van die land wat ek so liefhet te karteer vir almal wat dit geniet om daaroor te lees en iets daarvan probeer wys word. Die gedig “Soet is die stryd” van ID du Plessis het my lewensleuse geword. Dit hang geraam in my...



Ihre Fragen, Wünsche oder Anmerkungen
Vorname*
Nachname*
Ihre E-Mail-Adresse*
Kundennr.
Ihre Nachricht*
Lediglich mit * gekennzeichnete Felder sind Pflichtfelder.
Wenn Sie die im Kontaktformular eingegebenen Daten durch Klick auf den nachfolgenden Button übersenden, erklären Sie sich damit einverstanden, dass wir Ihr Angaben für die Beantwortung Ihrer Anfrage verwenden. Selbstverständlich werden Ihre Daten vertraulich behandelt und nicht an Dritte weitergegeben. Sie können der Verwendung Ihrer Daten jederzeit widersprechen. Das Datenhandling bei Sack Fachmedien erklären wir Ihnen in unserer Datenschutzerklärung.